ONGULUMBASHE Die begin van die bosoorlog (2004)

VOORWOORD DEUR GENL JOHAN V D MERWE

Ek het gedurende die tydperk 1 Desember 1979 tot einde Mei 1983 aan die hoof gestaan van die veiligheidstakke van die SA Polisie in Suidwes-Afrika, nou Namibië. By my aankoms in Suidwes-Afrika het dit my getref dat terwyl daar in die operasionele gebied, Ovambo, Kavango en die Kaokoveld, 'n verwoede stryd gewoed het, die res van Suidwes-Afrika se inwoners ongestoord hulle gang gegaan het. Wat my egter die meeste beïndruk het was die hartlike verhouding wat daar tussen die verskillende bevolkingsgroepe in Suidwes-Afrika bestaan het. Ondanks die feit dat ons in 'n bloedige stryd met SWAPO gewikkel was, het ek by talle geleenthede met SWAPO-leiers samesprekings gehad wat deurgaans in 'n goeie gees verloop het. Die tydperk wat ek in Suidwes-Afrika gedien het, was sonder twyfel van die gelukkigste in my loopbaan. SWAPO wat alles in die stryd gewerp het om die plaaslike bevolking in Ovambo en die Kavango agter hom te skaar en militêre beheer oor hierdie gebiede te kry, het ook 'n verbete poging aangewend om die Kaokoveld binne te dring. Die Weermag en die Polisie het op hulle beurt al hulle vermoëns ingespan om die aanslag af te weer en het ook daarin geslaag om SWAPO militêr sodanig te knak dat hulle aan die einde van 1982 nie meer 'n wesenlike militêre bedreiging was nie.

Paul Els se weergawe van die militêre stryd in Suidwes-Afrika skets, op 'n gesaghebbende wyse, hoe hierdie stryd ontstaan en ontwikkel het. Dit toon hoe die S A Polisie van die vroegste tye af in die stryd om politieke mag en staatkundige veranderings vasgevang geraak het. Reeds in 1915 was die Zuid-Afrikaanse Politie (ZAP) aan die sy van genl Botha in Suidwes-Afrika. Soos die geskiedenis aanstap en die stryd om politieke mag en verandering toeneem, word die Suid-Afrikaanse Polisie telkens ingespan om enige vorm van bedreiging af te weer. Teen wil en dank word die klassieke rol van die S A Polisie en die beginsel van minimum geweld, wat vir alle polisiedienste wêreldwyd geld, verander om die eise van terreur die hoof te bied. Die aanval op Ongulumbashe illustreer op kleurvolle wyse hoe die rol van die S A Polisie in die stryd verander het.

As dit in gedagte gehou word dat die aanval op Ongulumbashe in die verdere verloop van die gewelddadige stryd in Suidwes-Afrika (Namibië), Rhodesië (Zimbabwe) en ook Suid-Afrika, maar slegs een van die duisende voorvalle van geweld was waarin lede van die Suid-Afrikaanse Polisie betrokke geraak het, gee dit 'n vae aanduiding van die bomenslike eise wat daar aan sodanige lede gestel is.

Paul Els slaag sonder twyfel daarin om die wese van die stryd om politieke mag en verandering in Suidwes-Afrika (Namibië) op 'n sonderlinge wyse uit te beeld. Fasette word beklemtoon wat 'n uiters waardevolle bydrae lewer om die geskiedenis in perspektief te plaas. Ek het dit persoonlik baie nuttig en insiggewend gevind en gee lesers graag die versekering dat die verhaal boeiend en geloofwaardig is.

- Genl Johan van der Merwe

Amazon Kindle Version - http://goo.gl/tf58U